Daar is algemene beginsels om te oorweeg en toe te pas om mee te begin, en dan moet mens maar in die voëls te behoeftes voorsien per kategorie. Die belangrikste beginsel is om weg te bly van gif af. Dit gaan ook nie net oor "gee die voëltjies kos" nie, maar eerder om 'n habitat te skep. Voëls wil spesifieke tipes van kos hê, maar ook water en skuiling, nesmaakmateriaal, plek om 'n nes te bou, asook plek om te sit en sing – en mooilyk – en rondkyk.

Sommige voëls verkies doringbome en digte boskasies, soos deurmekaarbos, rusperboontjie, katjiepiering en pendoring en ander wil hoë woudbome hê. Water is ook nie altyd so eenvoudig soos 'n voëlbadjie nie. Party soorte hou van 'n voëlbadjie, terwyl ander vlakker water verkies en ander 'n sproeier geniet, en dan is regte watervoëls nou weer 'n ander storie.

Nou kan ons na kos kyk, en sommer met die mooi suikerbekkies en ander nektarvoëltjies begin. Daar is 'n groot verskeidenheid blomme wat hierdie voëltjies gelukkig hou, met blomme wat reg deur die jaar blom. Daar is niks wat altyd blom nie, maar daar is reg deur die jaar iets wat blom. Mens moet dus maar ietsie vir hulle voorsien vir elke seisoen, en in die proses word die tuin opgekikker.
Vir die somer is daar verskillende spesies van wit, blou en pers Agapanthus, wat om die beurt van November tot Februarie-Maart blom, en hulle kan so klein as 20cm hoog wees tot 1.5m hoog. Meeste is immergroen en waardeer water reg deur die jaar, terwyl ander rustend is in die winter, en dan ook nie water hoef te kry nie. Die Agapante verkies almal hoë effense skaduwee of selfs volson. Hulle hou nie van dooie skaduwee nie, en veral nie van 'n struik wat teen hulle druk nie – dan is dit asof hulle wil weghardloop, en die blomstingels groei sommer amper horisontaal.
Daar is darem ook 'n vuurpyl wat saam met die laat-somer blommende Agapante in Februarie sy oranje kop uitsteek. Om die waarheid te sê, daar is verskillende spesies vuurpyle vir elke seisoen. Hulle is natuurlik lief vir hulle watertjie in die somer, maar kan gerus droog gelos word in die winter.
Wat aalwyne aanbetref, is daar ook verskillendes wat blom dwarsdeur die jaar. Kyk maar waar hulle vandaan kom. Hulle is nie almal droogtebestand in die sin van "hoef net reënwater te kry" nie. Ons plaaslikes wel, maar as die spesie iewers van 'n hoë reënval gebied soos Magoebaskloof kom, moet hy maar in die somer bietjie ekstra kry, maar nie in die winter nie.
Herfs het mos maar 'n reputasie vir oranje blomme. Die Kaapse kanferfoelie is natuurlik 'n suikerbekkie-paradys. Hulle is verskeie skakerings oranje, asook geel en pink, en blom herfs en lente.
Sonder om verder veel te borduur; hier is sommer 'n lysie van suikerbekkieplante en wanneer hulle blom:
Notsung (Halleria lucida) – laat herfs tot mid-somer
Rivierklokkie (Phygelius aequalis) – somer tot herfs
Strelitzia (Strelitzia reginae) – herfs, winter, lente
Koraalbome (Erytrina spp) – laat winter tot vroeg lente
Wilde granaat (Burchellia bubalina) – lente tot somer

Nou maak ons tuin om insekvretende voëls te lok.

Om dit te kan doen, moet ons verskeie insekte lok. Alle goggas is nie peste nie. Daar is nie net "bad guys" nie, maar ook "good guys". Baie goggas beheer juis die lastige soorte. Dink maar aan "ladybirds" en hotnotsgotte wat luise eet. En wat 'n plesier om die voëltjies te sien luise af-pik van die plante af. Niemand wil plantluise hê nie – so, lok maar die voëls en voordelige goggas. Weereens is dit belangrik om weg te bly van gif af. Ons noem die hele skare – voëls inkluis – wat help om die peste in toom te hou die "BBBB" – "beautiful bug busting brigade".
Daar is verskeie bome en struike wat spesifiek by heuningbye gewild is: onder andere Deurmekaarbos (Ehretia rigida), Enkeldoring (Acacia robusta), Blompeer / Drolpeer (Dombeya rotundifolia) en pragtige Dopperkiaat (Pterocarpus rotundifolius).
Dan is daar etlike bome wat vlinders en 'n verskeidenheid ander insekte lok: Wildeperske (Kiggelaria africana), Wildekastaiing (Calodendrum capense), Geelkeur (Calpurnia aurea), Kurkbos (Mundulea sericea), Laventelboom (Heteropyxis natalensis), Bosbeesklou (Bauhinia tomentosa), Huilboerboon (Schotia brachypetala), Pietersielieboom (Heteromorpha arborescens), Witolien (Buddleja saligna) en Transvaalliguster (Galpinia transvaalica) – om die lys nie te ellelank te maak nie.
Voor ons by die vrugtevreters uitkom, moet ons ook net aan die grassaadvretertjies aandag gee. Dis maklik genoeg om hulle kos te gee met saadjies of krummels, maar wat 'n vreugde om hulle te sien eet op 'n stingel van 'n lang veldgras soos rooigras. Ons het nie almal die voorreg om 'n stuk grasveld van ons voorstoep af te sien nie, maar as jou tuin 'n droë hoekie het wat genoeg son kry, oorweeg dit om 'n paar polle veldgras daar te laat groei.

Nou moet die vrugtevreters ook kos kry – en nie jou vye en perskes nie.

As ouers van klein kindertjies, maak mens mos 'n plan as die klein handjies met 'n skerp mes of ander verbode artikel wil speel. Jy gee iets anders om mee te speel in plaas van om net die mes af te vat en 'n tranedal te veroorsaak (dit werk nie altyd nie, maar mens kan darem probeer). Ons kan dieselfde beginsel toepas as ons beide voëls én vrugte vir menslike gebruik in die tuin wil hê. Gee dus vir die gevlerkte vriende iets anders om te eet in plaas van aarbeie, vye, appelkose, druiwe en perskes – en maak dan maar die vrugte wat jy self wil eet toe. Ek lees in 'n tuinmaakboek 'n tong-in-die-kies happie waarheid dat net voëls en kinders regtig weet hoe vars aarbeie smaak.
Ons land is geseën met 'n ryke verskeidenheid wilde vrugte, en daarmee saam die kleurvolle skare wat daarop leef. Die grootte van vrugte aan inheemse bome is enigiets van skaars groter as 'n speldkoppie tot so groot as 'n ghoen. Die voëls wat die vrugte eet is eweneens van piepklein tot swierige loeries en papegaaie. Hoewel dit nie noodwendig so werk dat dit die klein voëltjies is wat die klein vruggies eet, en die groot vrugte aan die groot voëls oorlaat nie, deel ek maar steeds die lysie bome in twee kategorieë: eers klein vruggies en dan medium- tot groot vrugte.

Klein vruggies

Notsung (Halleria lucida), Blinkblaar (Rhamnus prinoides), Kruisbessie & Rosyntjiebos (Grewia spp), Klein noemnoem (Carissa bispinosa), Blinkblaar-wag-'n-bietjie (Ziziphus mucronata) , Deurmekaarbos (Ehretia rigida), Rooipendoring (Gymnosporia senegalensis), Karee & Taaibosse (Searsia spp; was Rhus), Olienhout (Olea europaea africana), Witstinkhout (Celtis africana), Witbessiebos (Flueggea virosa), Swartvoëlbessie (Psycotria capensis), Witysterhout (Vepris lanceolata), Katsnorbos (Rotheca myricoides) en Voëlsitboom (Antidesma venosum). Ons wag nou al 'n paar jaar om 'n Boomsitvoël in ons Voëlsitbome te sien, maar hulle staan weerskante van 'n Pendoring waarin 'n menigte voëls baie graag sit, en dus kry die Voëlsitbome nie genoeg aftrek om hul naam gestand te doen nie.

Medium- tot groot vrugte:

Groot noemnoem (Carissa macrocarpa), Bosnoemnoem (Carissa edulis), Wildepruim (Harpephyllum caffrum), Moepel (Mimusops zeyheri), Mispel (Vangueria infausta), Wildedruif (Rhoicissus tridentata en R.tomentosa), Waterbessie (Syzygium cordatum), Doppruim (Pappea capensis), Keiappel (Dovyalis caffra), Wildevye (Ficus spp), Maroela (Sclerocarya birrea ssp caffra) en Blinkblaar-wag-'n-bietjie (Ziziphus mucronata) wat klein, medium of groot vrugte kan hê. Terloops: Dit was opvallend, nou die dag toe ons voëls soek daar naby Moletji rond, dat die enigste plekke waar ons tiptolle gesien het, was waar 'n goeie stand van Blinkblaar-wag-'n-bietjies vol vrugte was.
Geniet die tuin vol vrugte en voëls.

Search

Go to top